| Hoe's die weer in Vancouver? |
In Vancouver is ons weer redelik matig (gemiddeld so 26 ºC in die somer
en so 4 ºC in die winter). |
| En in die res van Kanada? |
Daar is ander gedeeltes waar die weer meer "ekstreem" is (sê
so -20 ºC in die winter en 35 ºC in die somer...). Maar onthou, die geboue hier word in
die winter sentraal verhit - so 'n mens kry waarskynlik kouer met 'n Hoëveldse winter as
wat jy hier kry.
Maar jy moet wel jou buitemuurse aktiwiteite aanpas na gelang van die seisoen. In die
somer kan jy braai, en kampeer, en visvang ... al die tipiese somer dinge! |
| Is daar baie Suid-Afrikaners daar? |
Van wat ek verstaan, is daar sowat 100 000 Suid-Afrikaners in Kanada,
waarvan sowat 30 of 40 000 in Vancouver se omgewing woon. |
| Is dit veilig om rond te loop in die straat? |
In vergelyking met SA of die VSA, is dit baie veilig hier. Daar is
natuurlik gedeeltes van die stad wat vermy moet word, veral in die aand, maar daar is 'n
BAIE laer misdaadvlak as in SA. |
| Is huise baie duur? |
Dit hang baie af van waar 'n mens woon. Hier in Vancouver is die
gemiddelde huis sowat $240 000 (en dan's dit nie baie groot nie), maar daar is gedeeltes
van die land waar die gemiddelde huis sowat $60 000 (ongelukkig ook die gedeeltes waar
daar groter werkloosheid is). |
| Kry mens maklik werk daar? |
Dit kan nogal 'n probleem wees. Soms kan 'n mens binne 'n maand of twee
'n werk kry, en soms moet 'n mens vir 'n paar jaar vrywilliger en kontrakwerk doen.
Verdere bronne: Kanadese Werksbronne en Peet van Biljon se
bladsy oor Werksoek in Kanada |
| Is kos duur? En klere? |
As 'n mens betaal met geld wat jy in SA verdien het, is dit redelik duur.
As dit met geld is wat jy hier verdien het is dinge bekostigbaar. |
| Wat moet jy doen om in Kanada verblyfreg te kry? |
Om in Kanada te werk en woon (al is dit net vir twee of drie jaar) is dit
gewoonlik nodig om 'n burger of 'n landed immigrant te wees. Om 'n landed
immigrant te word het jy 'n immigrasievisum nodig wat buite Kanada verkry moet word.
Die Kanadese Hoë Kommesariaat verskaf die vorms en doen die onderhoude. Dis jou besluit
of jy geld wil uitgee op immigrasiekonsultante. Ons het nie, en het waarskynlik net so
vinnig ons visums gekry as dié wat wel van hulle gebruik gemaak het.
Verdere bron: Peet van Biljon se bladsy oor Kanadese Immigrasie |