Respek vir anderEk wonder of daar ooit 'n telling gemaak kan word van al die emosies wat in 'n persoon is. Seker nie. Wel, hoe langer ek in London bly hoe meer bewus raak ek van emosies wat ek nog nooit van geweet het nie. Ek weet vir die eerste keer wat beteken die gesegte - "hol kol op jou maag". Iets kort. Iets is weg. Jy verlang. Hartseer. Dieselfde as - hol kol op jou maag. Hart is seer. Ai, dat ek tussen die britte moet wees om jare se simboliek te verstaan. Elke gesprek met mense wat in die selfde situasie as ek is lei tot die vraag - Wat gaan jy doen? Waar gaan jy gaan? Jy kan bly tussen die britte, jy kan 'n kanadees probeer word, jy kan 'n europa aanvat, jy kan geld bymekaar skraap vir 'n "greencard", jy kan solank "cantonees" begin eet om gewoond te raak aan oosterse kos of jy kan terug gaan huis toe. Terug huis toe? Wat 'n anti-klimaks. Ja terug huis toe. Terug na die misdaad, sosiale probleme, om nie eers van die politiek en ekonomie te praat nie. Dis alles goed om jou self in 'n ander land te gaan vestig maar is dit groener aan die ander kant van die ses voet hoë doringdraad? As jy anderkant kom sukkel jy lank om jou eie stukkie grond te kry en dan moet jy begin kompos gooi en werk sodat dit goed lyk. Miskien is dit my hol kol wat praat maar hoekom probeer ons nie om ons eie stukkie grond vrugbaar te kry aan ons afrika kant van die draad nie? Nou ek het baie goed uitgelaat wat jou besluite bëinvloed, maar het jy drastiese gebeure nodig om jou oë oop te maak? Ja, sal mense sê wat 'n geliefde verloor het as gevolg van moord. Ja, sal mense sê wat hulle bloed grond verloor as gevolg van poltieke aksie. Ja, sal mense sê wat hulle werk verloor het op grond van regstelling. Nee, sal mense sê wat niks van hierdie vorige faktore in hulle lewe gevoel het nie. Wil jy hê jou kind moet in hierdie land groot word? Ja, ek sal my beste doen om sy lewe soveel kwaliteit te gee as moontlik. Ek sal 'n sukses van my lewe maak. Sorg vir die toekoms dan kan jy vandag voluit lewe. Potjiekos, Uilkraalsmond, bosveld, wildekus, godsdiens, grasdak, lapa, son, Knysna, vriende, liefde, winterreën, Jakarandas, grondpad, Nuweland - is alles woorde wat daai hol kol kan vol maak. Ek wil nie soos 'n vreemdeling voel nie en wil ook nie hê my kinders moet as vreemdelinge met 'n snaakse aksent groodword nie. Ek respekteer die persone wat besluit het om hulle heenkome in ander velde te gaan soek. Al wat ek voor vra is die selfde respek van hulle kant af terug. Marius van Wyk London |